Robin se rok en persoonlikheid bekoor

Robin se rok en persoonlikheid bekoor

MBOMBELA – Uit meer as 7 000 inskrywings is Hoërskool Nelspruit se Robin Audrey Rowe die naweek in kykNET se Matriekafskeidrok van die Jaar-kompetisie as Mej. Persoonlikheid aangewys.
Sy was een van die top 25-finaliste wat Saterdag by Menlyn in Pretoria op die loopplank in aksie was. Robin was die enigste dogter wat haar rok self aanmekaargewerk het.
Thomas Thomson, wat al meer as 35 van Suid-Afrikaanse bekendes soos Lizz Meiring, Theuns Jordaan, Juanita du Plessis, Amanda Strydom, Laurika Rauch, Tania van Graan en voormalige Mej. Suid-Afrika Claudia Henkel geklee het, was een van die beoordelaars. “Sy het geen opleiding nie. Dit is voorwaar verstommend,” het hy oor Robin gesê.
Sy gaan aanstaande jaar BSc dierkunde aan die Universiteit van Pretoria studeer. Thomson was aan die een kant effe teleurgesteld, maar aan die ander kant verlig toe hy hoor dat sy nie mode-ontwerp as beroep gekies het nie. “Wat gaan aan met jou? Ek is tog baie bly, want darem het ek dan vir die volgende 10 jaar nog werk,” het hy geskerts.
Robin het as sewejarige by Surette Braack van Lowveld Sewing Academy met naaldwerkklasse begin. In gr. 11 het sy besluit dat sy haar eie matriekafskeidrok wil maak.
“Ek dink nie my ma of Surette het gedink ek was ernstig nie – tot ek verlede jaar tydens die Desembervakansie gevra het wat ek alles moet regkry om te begin,” vertel Robin. Tien dae voor die groot aand, het sy haar eindproduk opgehang.
“Die voorpunte van my vingers het naderhand begin bloei soos ek met die naald en garing besig was. Die bostuk alleen het my ongeveer 360 uur geneem om te maak. Maar dit was alles die moeite werd.”
Met die titel het Robin Karaja-grimering ter waarde van R2 500 ontvang.
Die dogters het die Vrydag voor die finaal opleiding gekry oor hoe om op ‘n loopplank te loop en hulle moes ook ‘n dansroetine leer.
“Jong, ek het hard aan daardie stappie van my geoefen, maar kyk, dit was net nie my scene nie. Ek is ‘n plain Jane en ek dink sommige van die meisies het gedink ek is baie nors, maar dit was net nie vir my nie. Dit was wel ‘n wonderlike ervaring en ek het dit bitter baie geniet.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *